Sterker nuwe eenheid vir geweld teen kinders bepleit (18.07.09)

Sterker nuwe eenheid vir geweld teen kinders bepleit (18.07.09)

Erna van Wyk

Die "nuwe" kinderbeskermingseenheid (KBE) moet meer spierkrag hê as sy voorganger.

Dit was die reaksie van kinderbeskermingsgroepe op die nuus dat die minister van polisie dit oorweeg om die KBE en ander spesialiseenhede – wat in 2006 ontbind is – weer in die lewe te roep.

Mnr. Hangwani Mulaudzi, woordvoerder vir die minister van polisie, sê 'n ondersoek na die moontlike herlewing van die spesialiseenhede sal teen Desember voltooi wees. Mnr. Nathi Mthethwa, minister van polisie, sal dan 'n besluit neem.

Mthethwa het vroeër vanjaar erken die ontbinding van die spesialiseenhede was 'n fout.

Veral kinderregtegroepe het die nuus verwelkom.

Me. Angelica Pino, bestuurder van die geslagsgeweldprogram by die Sentrum vir die Studie van Geweld en Versoening (CSVR), sê al Suid-Afrika se buurlande het spesialiseenhede wat fokus op geweldmisdade teen kinders en vroue.

"Van al die lande in die streek is Suid-Afrika die een met die nodige hulpbronne om sulke eenhede suksesvol te kan laat funksioneer.

"Wat ons egter nié wil hê nie, is dat die eenhede teruggebring word, maar dat hulle nie behoorlik toegerus word om hul werk te doen nie."

Volgens Mulaudzi is daar verlede jaar 1 410 kindermoordsake by die polisie aangemeld.

Groepe wat slagoffers help, sê dis veral op die platteland waar kinders en vroue erg gely het onder die dwase besluit van die geskorste polisiebaas, komm. Jackie Selebi, om die spesialiseenhede te ontbind.

Me. Fiona Nicholson, direkteur van die Thohoyandou Victim Empowerment Programme (TVEP) in Limpopo, sê toe die KBE destyds ontbind is, was die veronderstelling dat elke polisiekantoor spesialis-ondersoekers sal hê om met kinders te werk.

"Dit het nie gebeur nie. Jy is uiters gelukkig as jy so 'n persoon aan diens kry in 'n polisiekantoor.

"Die ergste is dat sedert die polisie se anti-verkragtingsveldtog begin het, is dit duidelik dat daar met polisiestatistieke gepeuter word." Volgens dié polisieveldtog moet verkragtingsyfers met 7% afgebring word.

"Al wat gebeur het, is dat die polisie eenvoudig nie meer nuwe dossiere aanlê nie. Dit is absoluut verskriklik. Kinders word eenvoudig weggewys of sake word nie ondersoek nie omdat 'n familielid betrek word."

Mulaudzi sê die polisie sal moet kyk na sy begroting en die samestelling van nuwe spesialiseenhede om te sien hoe lewensvatbaar dit is. "Ons het baie ervare ondersoekers verloor toe die eenhede destyds ontbind is. Ons sal nuwe ondersoekers moet kry en oplei."

In Rapport .

 

+ posts

CSVR is a multi-disciplinary institute that seeks to understand and prevent violence, heal its effects and build sustainable peace at the community, national and regional levels.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Translate »