By Julian Rademeyer
JOHANNESBURG. – Die nuwe nasionale polisiekommissaris, mnr. Bheki Cele, sal moet waak daarteen om emosionele uitsprake te maak wat polisielede verkeerd sal interpreteer – soos "skiet om dood te skiet".
Só sê dr. Johan Burger, senior navorser by die Instituut vir Sekerheidstudies (ISS).
Burger sê hy meen 'n nuwe kommissaris moes uit die geledere van die polisie gekom het. "Dit het nou nie gebeur nie en ons sal Cele moet aanvaar en hom na eie verdienste oordeel."
Hy sê hy beskou Cele as 'n kompromis-kandidaat; iemand van buite die diens vir wie die polisie ook nie totaal vreemd is nie.
Hy sê Cele het in KwaZulu-Natal 'n baie goeie verhouding met die polisie opgebou. "Onder polisiemanne is hy 'n aanvaarbare politieke hoof. Hy moet nou net die skuif maak van 'n politieke platform na 'n operasionele een."
Burger, wat in 1993 saam met Cele 'n kursus in Engeland bygewoon het, sê hy was "tog beïndruk met die ou" en "sy vermoë om situasies netjies uiteen te sit". "Hy is 'n baie charismatiese en flambojante persoon en soms kom sy uitsprake bietjie wild oor."
Mnr. David Bruce, 'n senior navorser by die Sentrum vir die Studie van Geweld en Versoening (CSVR), sê 'n uitdagende pos staar Cele in die gesig.
"Ek dink wat baie mense nie besef nie is dat Suid-Afrika een van die grootste polisie-organisasies ter wêreld het. Ek dink net die polisie in Nigerië en Indonesië is groter en in albei dié plekke is hulle in 'n chaos."
Wat die SAPD nodig het, is 'n leier wat "bomenslik" is, maar dit is 'n "onrealistiese ideaal". Die polisie het wel iemand nodig wat toeganklik is en "oop kaarte met die publiek en die pers speel en nie altyd agter media-woordvoerders wegkruip nie".
Bruce het kommer uitgespreek oor Cele se aanstelling. "Iemand wat geneig is om net harde retoriek te gebruik oor misdaad pleks daarvan om die polisie te lei oor hoe mag reg gebruik word, bring net verwarring onder die lede."
Volgens Bruce is daar vier kernvereistes waaraan 'n polisiekommissaris moet voldoen.
"Hy moet 'n visie van doeltreffende polisiëring binne die raamwerk van die Grondwet kan artikuleer, sy integriteit moet bo verdenking wees, hy moet 'n sterk bestuursbeskouing hê en hy moet nie deur politici beïnvloed word nie.
"Daar is kommer dat die president, die minister van polisie, mnr. Nathi Mthethwa, en nou die nasionale polisiekommissaris almal van KwaZulu-Natal af kom en noue bande met mekaar het," het Bruce gesê.
In Die Volksblad .
CSVR is a multi-disciplinary institute that seeks to understand and prevent violence, heal its effects and build sustainable peace at the community, national and regional levels.