'Howe straf die wittes ligter' (10.11.10)

'Howe straf die wittes ligter' (10.11.10)

Kaapstad – Suid-Afrika se strafregstelsel is rassisties en moet getransformeer word, want die howe straf swart misdadigers swaarder as wit misdadigers.

Me. Maggie Sotyu, nuwe adjunkminister van polisie, het dié uitlating gister by die parlement gemaak nadat die Sentrum vir die Studie van Geweld en Versoening (CSVR) se omvattende navorsing oor die omvang en aard van geweldsmisdaad bekend gemaak is.

Sotyu het 'n voorbeeld gebruik van 'n "wit persoon of boer wat 'n swart plaaswerker agter sy bakkie sleep en met 'n boete van R10000 wegkom".

"Maar 'n swart man wat 'n wit boer vermoor, kry lewenslange tronkstraf. Dít is rassistiese politiek."

Volgens haar moet die strafregstelsel getransformeer word, "want mense van dieselfde land word nie gelyk behandel nie. Dis hoog tyd dat ons howe besef dit is nou die nuwe Suid-Afrika."

Sotyu het met die media gepraat nadat die parlementêre portefeuljekomitee oor polisie en die sekretariaat van polisie die CSVR se navorsing uitmekaar getrek het. Me. Jennifer Irish-Qhobosheane, sekretaris, en LP's het dié navorsing – waarvoor die regering R3,5 miljoen betaal het – as onbevredigend, teleurstellend en onvolledig afgemaak.

Na hul mening bied die navorsing geen nuwe insigte of verklaring oor waarom misdaad in Suid-Afrika so uitermatig gewelddadig is nie.

Volgens Irish-Qhobosheane het die ministerie ernstige besware oor die navorsing wat in 2007 in opdrag van mnr. Charles Nqakula, destydse minister van veiligheid en sekuriteit, onderneem is. "Dis nuttig, maar bied niks nuuts nie. Nie eens die aanbevelings is kreatief nie."

Me. Sindi Chikunga, ANC-LP en komiteevoorsitter, het na die Demokratiese Republiek van die Kongo verwys wat vandag ná jare van oorlogvoering veilig genoeg is dat mense valuta op straat kan ruil.

"Daar is 'n oorvloed wapens en Kinshasa is brandarm, maar sy misdaad is nie naastenby so gewelddadig nie. Wat is so uniek aan Suid-Afrika se situasie? Ek kry nie 'n antwoord in jul verslag nie," het Chikunga aan me. Adèle Kirs-ten, direkteur van die CSVR, gesê.

Mnr. Pieter Groenewald (VF+) het na grusame plaasmoorde verwys "waar bejaardes met strykysters gemartel word en die aanvallers vlug sonder om enigiets te vat".

"Waarom dié onmenslikheid? Die antwoorde ontbreek."

Volgens Kirsten gee 'n verskeidenheid ingewikkelde redes aanleiding tot uitermatige geweld. "Julle sal nêrens net een (eenvoudige) antwoord kry nie – nie by ons nie en ook nie by internasionale navorsers nie."

Volgens mnr. David Bruce, ook van die CSVR, is alternatiewe navorsing soos die sielkundige profilering van geweldenaars nodig om te bepaal wat hulle motiveer om so gewelddadig op te tree.

Die Burger

+ posts

CSVR is a multi-disciplinary institute that seeks to understand and prevent violence, heal its effects and build sustainable peace at the community, national and regional levels.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Translate »