By Lizel Steenkamp
Kaapstad – Navorsing oor die gewelddadige aard van misdaad waarvoor die regering R3,5 miljoen betaal het, vergaar reeds 18 maande lank stof.
Mnr. Nathi Mthethwa, minister van polisie, sal die navorsing wat vroeg in 2007 deur die Sentrum vir die Studie van Geweld en Versoening (CSVR) onderneem is, eers volgende maand aan die parlementêre portefeuljekomitee oor polisie voorlê. Dit sal daarna aan die publiek bekend gemaak word vir kommentaar.
Die eerste twee verslae wat onder meer handel oor die hoë moordsyfer in ses polisie-areas, is in Augustus 2008 vrygestel. Die ander vyf verslae – waaronder die aard van seksuele geweld, ongelykheid en armoede, die plegers van geweldsmisdaad, hoe geweldsmisdaad bestry kan word en die oorsaak van Suid-Afrika se hoë geweldsmisdaadsyfer – is sedert April 2009 in regeringshande.
Mnr. Vusi Mona, regeringswoordvoerder, het gister op 'n perskonferensie gesê die lang vertraging in die bekendmaking van die navorsing spruit "uit die aard van hoe die (regering)stelsel werk". "Verskeie komitees moes dit eers bestudeer. Dit (die navorsing) was verseker nie net 'n akademiese oefening nie en sal gebruik word om regeringsbeleid te beïnvloed. Daar is geen rede vir sinisme nie."
Mona het aangevoer die regering het die navorsing eers vroeg vanjaar ontvang. Die Burger het egter betroubaar verneem die laaste verslag wat op Mthethwa se versoek opgestel is, is in April 2009 afgehandel en die totale koste vir die projek beloop R3,5 miljoen.
Die opstellers van die verslag is gefrustreerd omdat die bekendmaking – in Maart en toe in Augustus vanjaar – herhaaldelik uitgestel is. Die navorsing is relevant en bied 'n oorhoofse begrip van die aard en omvang van geweldsmisdaad en hoe die regering dit kan bestry. Daar is egter sinisme "oor of dit ooit die lig gaan sien".
Mnr. Zweli Mnisi, Mthethwa se woordvoerder, het gister gesê nie net die departement van polisie nie, maar ook die departemente van korrektiewe dienste en justisie, moes die navorsing eers bestudeer.
In Die Burger.
CSVR is a multi-disciplinary institute that seeks to understand and prevent violence, heal its effects and build sustainable peace at the community, national and regional levels.